
=====================================================================
Afrikaans vir die Afrikane? (AV 5:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Afrikaans vir die Afrikane?

Chris van der Merwe   gee die storie agter die nuus dat die departement Afrikaans van die Universiteit van Kaapstad met die departement 
Afrika-tale verenig.

DIE Afrikaans-departement van die Universiteit van Kaapstad was verlede jaar in die nuus met die aankondiging van die komende vereniging 
met die departement Afrika-tale van UK. In sommige kringe is dit toegejuig dat Afrikaans nou "sy plek ken"; ander was ontsteld en het dit 
gesien as nog 'n teken van die marginalisering van Afrikaans. Wat is die storie agter die nuus?

Die ontwikkeling het, gelukkig, niks te make met die marginalisering van Afrikaans nie, maar moet gesien word teen die agtergrond van 
algemene tendense aan die Universiteit van Kaapstad. 'n Stelsel van program-gebaseerde onderrig word beplan, in aansluiting by die 
gedentifiseerde behoeftes van die student en die leemtes in die mark. Daarmee gaan gepaard die val van ou grense tussen departemente en 
fakulteite, en die totstandkoming van minder en groter departemente en fakulteite.

Oor die voor- en nadele hiervan kan lank gedebatteer word; maar dit is nie hier ter sake nie. Waaroor dit hier gaan, is dat elke 
departement aan die universiteit gekonfronteer is met 'n besluit oor herstrukturering.

Vir die Afrikaans-departement by UK was daar drie moontlike uitwe: om aan te sluit by Engels; of om aan te sluit by Europese tale soos 
Duits, Italiaans en Frans; of om aan te sluit by Afrika-tale. Wat Engels betref, sou dit vir Afrikaans baie moeilik wees om met so 'n 
uiters sterk departement by UK op gelyke voet te verbind -- sou Afrikaans dan dalk mettertyd as 'n klein onderdeel van die Engels-Suid-
Afrikaanse letterkunde aangebied word, waaroor hoofsaaklik (alleenlik?) in Engelse vertaling gedoseer word? Wat die ander twee moontlikhede 
betref: die Europese taaldepartemente is klein en bedreig in teenstelling met die sterk en groeiende departement Afrika-tale.

Prof. Satyo,   hoof van Afrika-tale by UK, het prof. Henning Snyman, hoof van die Afrikaans-departement, genader met die versoek dat die 
twee departemente verenig. Teen die agtergrond soos hierbo geskets, is dit nie verbasend dat die Afrikaans-departement eenparig ten gunste 
daarvan besluit het nie. Ook die departement Afrika-tale was eenparig geesdriftig daarvoor. So het dit dan gekom dat die Afrikaans-
departement die eerste in die land geword het wat met 'n departement Afrika-tale verenig -- miskien nie die laaste nie?

Een van die dinge wat my ligtelik neerslagtig maak, is die debat of Afrikaans van Europa of van Afrika is. Die basis van Afrikaans is 
natuurlik Nederlands, maar wat dit tot 'n afsonderlike taal laat ontwikkel het, is die nuwe omstandighede en die kontak met ander tale in 
Afrika. Die Afrikaanse literatuur is wel deurtrek van Europese invloed; maar ook van Afrika -- laasgenoemde merk elke Nederlandse student 
byvoorbeeld wat met ons "eksotiese" literatuur in aanraking kom. Afrikaans is van Europa, n van Afrika, n ook van die Ooste -- en dit is 
juis die wonder daarvan.

Die vereniging van die twee departemente beteken nie dat Afrikaans enige van sy huidige kursusse prysgee nie. Dit beteken met name nie dat 
iets van die Nederlandse komponent prysgegee word nie. Afrika-tale is hoegenaamd nie 'n bedreiging vir die Nederlandse komponent van 
Afrikaans by UK nie -- inteendeel. Die Afrikane is juis genteresseerd in ons kontakte met die Nederlandse en Vlaamse universiteite. En van 
die Nederlandse kant: 'n Nederlandse student verseker my dat Afrikaans nog aantrekliker in die Nederlande sal wees as dit binne die konteks 
van Afrika-tale bestudeer word.

Hoewel geen van die huidige Afrikaanse kursusse verdwyn nie, word 'n hele aantal nuwe kursusse oorweeg wat gesamentlik deur Afrikaans en 
Afrika-tale aangebied sal word. In ons gesprekke het ons steeds meer gemeenskaplike studieterreine ontdek: vreemdetaalonderrig, vertaling, 
en literre temas soos die uitbeelding van die Afrika-landskap, die spanning tussen platteland en stad en die neerslag van mondelinge 
vertellings in die literatuur. (Hierdie gesamentlike kursusse sal in Engels aangebied word.)

Die Afrikaanse taalbewegings is iets wat die voorstanders van Afrika-tale baie interesseer -- nie net by die UK nie, maar ook elders in die 
land. Waar ons (myns insiens tereg) ongelukkig voel oor die Afrikaanssprekendes wat in die Afrikaanse taalbewegings uitgesluit is, let 
Afrikane op die positiewe ontwikkeling van 'n "kombuistaal" tot 'n taal met 'n wetenskap en letterkunde van internasionale standaard. Dit 
is vir hulle 'n inspirasie en 'n voorbeeld van wat ook met die Afrika-tale sou kon gebeur.

Die taaldebat in die land het in die laaste jare dramaties verander. Waar dit vroer gegaan het om Afrikaans teenoor Engels, het die fokus 
nou verskuif na die debat tussen eentaligheid en veeltaligheid. Afrikaanssprekendes wat "die goeie ou dae" wil herstel toe Afrikaans en 
Engels die enigste amptelike tale was, is myns insiens onrealisties. Die Afrika-tale van Suid- Afrika is nou onherroeplik by die taaldebat 
betrokke, en hoe beter dit met die Afrika-tale gaan, hoe beter gaan dit met veeltaligheid, en hoe beter is dit vir Afrikaans.

Presies wat die inhoud van die begrip "veeltaligheid" vir Suid- Afrika moet inhou, daaroor moet nog besin word. Maar in die tussentyd moet 
mense wat vir Afrikaans omgee en besorg is oor die toenemende bevoordeling van Engels ten koste van Afrikaans, hul natuurlike bondgenote in 
die stryd raaksien, die mense wat hul hand oneindig kan sterk -- die bevorderaars van die inheemse tale van die land. Prof. Chris van der 
Merwe   is verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlandistiek aan die UK.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av529.html> Enige kommentaar? (Kommentaar word publiek op die Web aangebied.) Skryf gerus aan die 
redaksie.  Kopiereg (c) Stigting vir Afrikaans 1999    Blaai terug | Blaai om
Terug na bo   /// Afrikaans Vandag -- April 1998 /// Afrikaanssprekendes, word onmisbaar! (AV 5:2) /// Ywer uit onverwagte oord (AV 5:2) 
/// Produktiewe aksies moet daaruit voortkom (AV 5:2) /// Leeskring-inspirasie (AV 5:2) /// Een bre Afrikaanse front (AV 5:2) /// Die 
antwoord op: Hoe leer ek Afrikaans? (AV 5:2) /// Op die stoep gaan hulle skater van plesier (AV 5:2) /// Afrikaans: 'n nuttige stuk 
gereedskap (AV 5:2) /// Afrikaans vir die Afrikane? (AV 5:2) /// Afrikaanse bewegings moet besin oor oogmerke (AV 5:2) /// 'n Woordlint van 
land tot land (AV 5:2) /// Afrikaans gryp uitdagings (AV 5:2) /// Hoe stewig is die handevat? (AV 5:2) /// 'n Gelukkige huis lok vele 
vriende (AV 5:2) /// In die ban van Karoo-Afrikaans (AV 5:2) /// Die wel en wee van 'n politieke tolk (AV 5:2) /// 'n Reis van 
selfontdekking (AV 5:2) /// Nederlands wil Kaaps raakvat (AV 5:2) /// Taalvriendskap is nou moontlik (AV 5:2) /// 'n Briljante seun, Meyer 
(AV 5:2) /// Sonde met die Cravense bure (AV 5:2) /// PALJAS, paljas is die as nou af? (AV 5:2) /// Die smeerstorie (AV 5:2) ///

